



Renosterkoei voor kalf afgemaai
27 June 2013
‘n Maandoue renosterkalfie het Dinsdag verwese gestaan en treur by die karkas van sy ma en kort-kort aan haar gelek.
Die ma is vroeër in die Nwanedi Natuurreservaat, in die Tshipise-omgewing, afgemaai vir haar horings. ‘n Ondersoekspan het Dinsdag op die kalfie afgekom waar hy by sy ma gestaan het en aan droë bloed probeer ruik en lek het.
Die bulkalfie word geskat op sowat ‘n maand oud. Sy gehuil het selfs van die mees geharde lede van die ondersoekspan byna in trane gehad. Die kalfie is kort na die gru-ontdekking na ‘n plek van veiligheid geneem waar hy versorg sal word.
Teen druktyd was die ondersoekspan nog warm op die spoor van die stropers. ‘n Nadoodse ondersoek was vir Donderdag beplan om te kyk of daar dalk ‘n koeël in die witrenosterkoei se karkas gekry kan word om ballisties te toets.
Intussen is ‘n inwoner van Makhado (Louis Trichardt), Yahya Shoeb Jiwa (45), vier jaar direkte gevangenisstraf opgelê, nadat hy uitgevang is terwyl hy renosterhorings probeer koop het van ‘n polisie-agent.
Tydens sy vonnisoplegging het ‘n ondersoekbeampte van die Kruger Nasionale Park (KNP) se Misdaadeenheid, mnr. Mario Scholtz, getuig dat daar tans drie renosters per dag in Suid-Afrika gedood word vir hul horings.
Daar is sedert die begin van die jaar al 428 renosters in Suid-Afrika doodgeskiet en hul horings verwyder. Dit is volgens die nuutste statistieke wat die Departement van Omgewingsake op 20 Junie uitgereik het. Van hierdie getal is 45 renosters in Limpopo doodgemaak en 267 in die Kruger Nasionale Park.
Video: Rhino calf mourns slain mother