And Beeld reports, that the Ellie attacked two cars
Foto's: Olifant skok toeriste
Foto's: Olifant skok toeriste
2012-11-14 22:00
Buks Viljoen
Hulle was so bang nadat ’n olifant hul motor in die Krugerwildtuin omgegooi het dat hulle twee dae lank nie hul ruskamp verlaat het nie.
So vertel Chris Hare (40) van Durham, Engeland, oor die voorval Maandag toe ’n verwoede olifantbul die Hyundai Atos waarin hy en sy verloofde, Helen Jennings (40), was omgegooi het.
Minute nadat die olifant dié Britse paartjie se motor omgerol het, het hy sowat 100 m verder in die pad ’n tweede motor aangeval waarin ’n Amerikaanse toeris was.
Hare en Jennings het onlangs verloof geraak en het as deel van dié viering hul eerste besoek aan Suid-Afrika gebring.
Hulle het Sondag in Suid-Afrika aangekom en die aand in die Berg-en-Dal-ruskamp oornag.
Hulle sou Maandagaand in Onder-Sabie en Dinsdag in Pretoriuskop oornag.
Hulle was die oggend op pad Krokodilbrug toe toe hulle op die olifant afgekom het.
“Toe ek om die draai kom, was die big guy reg voor ons. Hy het aangeloop na ons en ek het van die pad afgetrek.”
Volgens Hare het die olifant verby hulle geloop.
“Toe ek omkyk, sien ek net hy stap op die motor af, druk sy tand teen Helen se deur en rol die motor om!
“Dit was vreesaanjaend en ek het net gedink: ‘Maar dit kan nie moontlik wees dat dit gebeur nie.’”
Jennings het ligte beserings en kneusplekke opgedoen.
“Gelukkig het die olifant se tand nie deur die deur gedring nie, anders kon sy (Jennings) baie seer gekry het.”
Mense wat agter hulle gery het, het personeel van die nabygeleë Lukimbi Safari Lodge, ’n private konsessie in die wildtuin, ontbied.
“Ons was baie bang en is net bly dis verby. Maar ons het darem ’n lekker storie om eendag aan die kleinkinders te vertel,” het Hare gesê.
Sally Kernick van Lukimbi sê hulle het die geskokte paartjie na hul lodge geneem waar hulle die twee dae oorgebly het.
“Hulle was gisteroggend te bang om alleen uit die wildtuin te ry en ons moes hulle tot by die Malalane-hek vergesel.”
Die tweede motor wat die olifant enkele minute ná die aanval op Hare-hulle s’n getakel het, was sowat 100 m van hulle af.
Vasti Fourie en haar lewensmaat, Ben Theron, het die tweede aanval gesien.
Volgens haar het die olifant dié motor van ’n Amerikaanse toeris verskeie keer bestorm.
Die dier het in ’n stadium sy tand onder die Chevrolet Spark ingedruk, die motor opgelig en op die grond neergegooi. Die dier het toe in die bos verdwyn.
“Ons het by hom stilgehou om te hoor of hy oukei was.
“Hy het verstar agter die stuurwiel van sy motor gesit en net geprewel – ek het nie geweet wat om te doen nie.”
Volgens Fourie het veldwagters van die wildtuin bloed op die Britte se motor gekry.
“Hulle vermoed die dier het dalk ’n abses aan die tand gehad.”
Ray Thakuli, woordvoerder van SANParke, wou gister geen verdere inligting gee nie en het gesê die voorval word ondersoek.